GOEIE TYE & MUSKIETE BY BREEDE OTTER

GOEIE TYE & MUSKIETE BY BREEDE OTTER

Hierdie artikel is geskryf deur Henry Jonker. Om al hul avonture te volg, maak seker om te gaan loer op hul webwerf:
www.jonkeradventures.com 
Deesdae begin mense my vra of ek my eie toer maatskappy het want as hul hoor/sien dan is ek en die seuns weg na een of ander plek. Soos ek die storie vertel dat dit maar net ʼn platform is om al hierdie spesiale oomblikke te dokumenter vir eendag as my klippie deur die voorvenster is (dit is nou as ek na my Skepper gaan as jy nie daai een verstaan het nie) kan ek sien dat die klein muis van sy wieletjie afvoeter want “why Larry, WHY?!” is seker maar wat die meeste dink!
Wel, met die dat die seuns ouer raak moet ek seker maak daar is ʼn balans en hulle nie altyd net na die wilde gramadoelas toe neem nie, want ja vir pa en sy vriende is daar niks lekkerder as vlaktes, bos, see en min beskawing, maar hoe ouer die knape raak hoe groter rol gaan interaksie met ander maats tydens kampe speel.
Die kamp by Skurwekop saam met hele paar gesinne van Wellington het momentum gekry en so word die volgende kamp vas gemaak, waar meeste & nuwe gesinne, sou aansluit by Breede Otter vir Paasnaweek.
Breede Otter is op die oewer van die Breede Rivier en is net +/- 82km van Wellington wat natuurlik ʼn WENNER is vir die kinders.
Ons pakkie vir die naweek was:
  1. Ek & seuns
  2. Bertie Joubert & gesin
  3. Tertius Joubert & gesin
  4. Retief Joubert & gesin
  5. Hugo Van Der Merwe & gesin
  6. Reinhardt Malherbe & gesin
  7. Dale Heramb & gesin
ʼn Paasnaweek sonder reën in die Kaap kry jy nie sommer nie, en as dit wel mooi weer is en daar is water dan het jy die perfekte kombinasie vir kinders. Gooi ʼn vrag vriende in die pot en jy het ʼn kombinasie vir ʼn lekker naweek.
Een van die hoogtepunte van die naweek was definitief die “sunet cruise” bootrit die Saterdagmiddag en met die terugkeer was dit ʼn aangesig om te sien hoe die kamp lewe kry met al die ligte wat stadig hier-en-daar begin aangaan.
Dit is altyd lekker om saam met ʼn groep mense te kamp waar daar net ʼn natuurlike vloei is. As jy moeg is of wil gaan skuins le met ʼn boek dan doen jy so, en soos die kinders begin honger raak het dan het ou Retief die roosters nader getrek en seker gemaak al die jong siele word gevoed.
Muskiete het ons bietjie afgeknou, maar dit is verstaanbaar as jy langs water kamp; Breede Otter is definitief ʼn plekkie wat ek weer sal besoek.
Groot dankie aan al die maats – groot en klein, vir een lekker lang naweek.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: ok, so pa het ʼn les geleer die naweek. As ons weer by ʼn plek gaan kamp en daar is ʼn SNOEPIE, dan koop ek GEEN lekkergoed of koeldrank vooraf nie, want ons kom met die alles terug. Dus volgende keer sal pa seker maak is daar ʼn snoepie en indien daar een is sal elkeen ʼn paar Rand kry. MAAR, en jammerte julle kan nie hierdie stukkie nou lees nie, en dit is meer vir jou gemik Lian – as dit klaar is, dan is dit KLAAR – punt. Nou, soos ek hierdie tik kry ek ʼn glimlag, want my seun ek weet hoe hardeg@t jy kan wees en dit gaan moontlik veroorsaak dat ons default na die “plakkie” op een van hierdie kampe as jy nie jou sin kry en begin dans soos ʼn afbeen makou. Julle twee was puik – soos altyd. Dankie!
Tot ʼn volgende keer.
Back to blog

Leave a comment

Please note, comments need to be approved before they are published.