KAMP IN DIE DORINGRIVIER BY GIFBERG

KAMP IN DIE DORINGRIVIER BY GIFBERG

Hierdie artikel is geskryf deur Henry Jonker. Om al hul avonture te volg, maak seker om te gaan loer op hul webwerf:
www.jonkeradventures.com 

KAMP IN DIE DORINGRIVIER BY GIFBERG

Blog Main Image Template

Snaaks hoe ʼn sekere baken of spesifieke plek jou die heeltyd volg in jou reise. Byvoorbeeld daar is ʼn spesifieke draai op die R62 voor Calitzdorp waar ek amper my dinges gesien het een jaar en elke keer as ek daar verby gaan dan oorval die herinnering my.

Dan is daar die Doringrivier en dit is hier waar ons verhaal begin. Die einste rivier het my al ʼn paar keer gestop as ons die Tankwa Karoo besoek in die winter maande, maar terselfdetyd ook mooi saam gespeel en ons toe gelaat om te kruis ʼn paar keer.

Maar hierdie sou ons eerste keer wees wat ons IN die Doringrivier sou kamp!

Elke keer as ons Noorde toe ry en ons verby die Gifberg bordjie op die N7 ry, so paar kilometer verby Klawer, dan sê ek altyd vir die seuns ons moet daar gaan kuier. Wel, daai tyd het uiteindelik aangebreek.

Vrydagmiddag direk na skool suiker ons 3 voertuie uit Wellington. Op Klawer word die spannetjie bederf met ʼn Magnum roomys en dan draai ons regs op die grondpad by die Gifberg/Urionkraal bordjie. By die 4 rigting draai ons regs en dan is dit ʼn lekker breë grondpad al teen die voet van die Op-De-Berg Natuurreservaat.

Dit is ons eerste keer uit teen Gifberg pas en plek-plek is die pad geteer by die steil gedeeltes. Uiteindelik bo, draai ons ‘n paar kilometer verder links en dan word die banddruk bietjie laer gemaak om te help met zinkplaat pad voor ons die laaste paar kilo’s aanpak na die plaas.

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Ons kom laatmiddag op die plaas en nadat ons ingeteken het, pak ons die 11 kilometer se 4×4 roete aan Doringrivier toe. Die eienaar waarsku ons dat, afhangend hoe ons ry, dit maklik ʼn uur kan neem aan die 11km. Uhmm, ʼn uur aan 11km dit is bietjie lank was my aanvanklike reaksie.

Soos ons deur die tee plantasies beweeg, verander die sand terrein na klip en skielik gebeur dinge teen ‘n slakkepas. Teen hierdie tyd het die son ons ook al gevang en die laaste paar kilometer af na die rivier moes ons maar in die donker doen.

Jacques doen ʼn vinnige recce toe hy aan die voet van die rivier kom en dui aan waar ons moet kamp. Die sand is dik en die voertuie praat lekker diep. Kinders spat in alle rigtings en kort voor lank brand die vuur terwyl kamp opgeslaan word.

Ons drie gesinne het al ʼn paar duisende kilometer saam gereis en hier in die middel van nêrens en êrens is dit waarvoor ons lewe. Hier maak ons vuur in die middel van ʼn rivier wat my al soveel keer gestop het – twee kante gevleuel deur rivier poele en die ander deur kranse.

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Volgende oggend en vir die eerste keer kan ons presies sien waar ons staan en die wêreld is prentjie mooi. Dit vat die kinders nie lank om die waterpoele te toets nie en kort voor lank word daar van elke moontlike rots gespring.

Na koffie en beskuit word die visstokke nader getrek en dit vat nie lank vir Lourens om ʼn lekker een die water uit te trek nie.

Die res van die dag was daar verken, geswem, vis gevang, windbuks geskiet, in die sand gespeel, klappers geskiet, ‘n paar koue biere geniet om die vuur…die lys gaan net aan-en-aan.

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Namiddag en dit was tyd vir die groot gereg van die naweek. Lourens het ons bietjie kom bederf met ʼn mooi Rooi Steenbras en ‘n Galjoen wat hy onlangs gevang het, wat saam met Jacques se roosterkoeke geniet sou word.

Camping within the Doringriver @ Gifberg

ʼn Paar laaste gooie word gedoen, om dalk nog ʼn laaste een uit die water te trek en dan word die kamp stoele nader getrek om aan te sit vir hierdie feesmaaltyd. Na die kinders se aktiewe dag het hulle nie op hulle laat wag nie en ou Jacques kon nie vinnig genoem inskep nie.

ʼn Paar opblaas matrassies word nader getrek en die kinders maak ʼn groot Krismisbed voor die kamp TV (vuur).

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Die volgende oggend kry die kamp maar stadig lewe. ʼn Koppie koffie word die hand in gestop en maggies, dit proe sommer bakgat! Kinders is vir ʼn laaste keer in die waterpoele en dan so laat oggend, voor die hitte ons begin trap, begin ons kamp opslaan.

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Bande word so bietjie afgeblaas om te help met die pad terug wat hier en daar maar sleg is, maar niks om erg oor bekommerd te wees nie. Uiteindelik terug by die N7 word die bande weer opgepomp, dan draai ons links en pak die laaste +/- 250 kilometer terug huis.

Was nie lank nie, of my spannetjie se klein lyfies het besluit dit was nou genoeg en die koppies het begin swaar raak…

Camping within the Doringriver @ Gifberg

Aan my twee seuns, Jean en Lian: hierdie was jul eerste bekendstelling aan klappers. Ons het met die goed groot geraak as kinders, maar vandag se samelewing het ʼn stokkie voor dit gesteek so dit was lekker om te sien hoeveel genot die goed vir jul gee. Was ook lekker om te sien hoe julle manne in gepak het aan daai visse van oom Lourens. Was ʼn voorreg, soos altyd, om hierdie ongelooflike belewenis met jul te deel my seuns!

Tot ʼn volgende keer.

Back to blog

Leave a comment

Please note, comments need to be approved before they are published.