KRISTAL HELDER WATER & BAIE SKIET

KRISTAL HELDER WATER & BAIE SKIET

Hierdie artikel is geskryf deur Henry Jonker. Om al hul avonture te volg, maak seker om te gaan loer op hul webwerf:

Snaaks hoe die lewe mense oor jou pad bring. Paar jaar gelede (dit voel al soos ‘n leeftyd) stop ‘n dametjie my terwyl ek Lian by sy kleuterskooltjie aflaai en vra my hoe dit gaan. Met die dat my geheue korter as ‘n vuurhoutjie is, weet ek natuurlik glad nie met wie ek praat nie. Sy sien die verwarring op my gesig en hoe die arme klein muis (my verstand) sukkel om op die wieletjie te bly.

“Henry, jy onthou my seker nie meer nie, maar jy & jou twee vriende (Paul Laas & Neef Willa) het jare gelede by my ouers in die middernagtelike ure op gedaan vir blyplek”

Teen hierdie tyd het my arme muis & wieletjie lankal ontspoor en die verwarring op my gesig het meer na angs begin ontaard.

“Jul was by Paul se batchelors toe jul bus vir jul weg gery het. Neef Willa het my geskakel & gevra of jul 3 nie by ons familie huis kan oornag nie. Natuurlik kon ek jul manne nie op straat sit nie.”

Die lig kom aan en ek kry flitse van daai kuier skielik en wonder hoe ons dit ooit oorleef het. Verleë skud ek hand (dit is toe mens nog mag blad skud voor die COVID wêreld) en lag maar net.  

“Fast forward” na ʼn paar jaar later en soos ek een middag uit stap by ʼn Crossfit sessie raak ek en paar manne in gesels met ʼn knaap (wat ek ook weekliks raak loop by my local koffie spot) wie se Aluminium besigheid langs die Crossfit is. Terwyl ons gesels stap die einste jonge dame daar uit, en gelukkig die keer weet ek darem met wie ek praat.

So ontmoet ek toe amptelik (rede hoekom ek die woord amptelik gebruik, want dit is dan die eerste keer wat ek mense se name vanself onthou) Reinhardt & Carla Malherbe.

 

 

So stap die weke/maande verby en elke keer as daar geoefen word, dan word daar eers ʼn min of twee nonsens gepraat met die twee en hul vennoot Reinier.

Eendag uit die bloute bring my buurman, Mauritz Kriek, onder my aandag dat die bure langs my kennis gegee het en dié gaan uittrek oor ʼn paar maande. So word die spot gedruif met ons goeie maat van Rawson, Tertius Joubert, dat hy sy sokkies moet optrek en vir ons klas huurders moet kry, anders gaan ons die plek adverteer as ʼn Senior Dames Koshuis.

Ek neem aan teen hierdie tyd kan jul al 1 + 1 by mekaar tel, want toe ons weer ons oë uit vee is Reinhardt (of Krummel soos baie hom ken) & Carla Malherbe skielik ons bure, en so begin ʼn nuwe vriendskap. Puik stukkie werk Zandre & Tertius!

Beide het ʼn passie vir reis & Cruisers en ek kan my soms verstaar as hul die stories vertel van hul Afrika reise saam met Carla se pa & vriende. Groot geword met Cruisers op die plaas en elk het sy eie naam & persoonlik bv. hul 60 Series se naam is Gor-gor .

So met hierdie ellelange agtergrond storie het dit nie lank geneem voor daar besluit word dat ons ʼn naweek saam moet gaan kamp. Carla se oudste broer, Gerrie, boer net buite Rawsonville op hul familie plaas wat aan die voet geleë is van die Hexrivier berge. Dit is ook hier waar die Jan Du Toitskloof rivier sy oorsprong kry en dan langs een van die vele waterpoele is ʼn klein stukkie paradys waar hul as gesin soms uitspan.

 

 

Bertie & Roelien Joubert het ook besluit om saam te ontsnap van die lewe se gejaag en so begin ʼn wonderlike naweek langs die Jan Du Toitskloof rivier met van die helderste water wat ek al ooit beleef het.

Bertie & Roelien kamp al vir jare langs die see by Trekosklaal en jy kry hul wraggies nie sommer by ʼn ATKV oord/kampterrein nie. Soos Bertie sal sê: “as daar ʼn spoel toilet is, dan is dit te fancy vir my :-)”.

 

 

Krummel & Carla het al die SADC omgewing plat gereis saam met haar familie so hierdie is twee families wat ken van kamp, maar meer belangrik dit is ʼn passie vir hul wat hul graag met hul kinders wil deel.

Tente word opgeslaan en die eerste koue bier sak die keel af terwyl die kinders baljaar in die poel voor ons. Kort voor lank kom groet Gerrie en drink ʼn paar koues saam met ons. Die knaap en sy seun ry more ʼn Enduro resies en dus moet die knaap vroeg in die bed kom.

 

 

Saterdagoggend en Bertie is gewapen met ʼn swart koffie (Black Lable) & bakkie pap (biltong). Krummel lyk of hy ʼn twee geveg verloor het met ʼn Ratelkat in sy tent en later kom die stories uit hoe hy en hul daktent ʼn onderonsie gehad het 2am die oggend toe hy wou in klim en die leertjie onder hom ingee.

Die kamp begin stadig lewe kry en kort voor lank is die kinders weer in die poele. Die casserole vleis wat oorgebly het van die vorige aand word weer warm gemaak terwyl daar aan ʼn koffie geteug word.

Deur die loop van die dag kom besoek Carla se oom (Johan Van Zyl) asook Adel Raas en haar dogtertjie, maar meer belangrik ʼn goeie ou maat van Willeklong faam – Neef Willa. Het die knaap jare laas gesien en na ʼn stywe hand druk voel dit weer of ons twee op ʼn fees of landbou skou langs ʼn vuur sit en gesels.

Laat middag en die seuns kan nie meer hul opgewondenheid beheer nie – hul karring al die heeloggend wanneer ons skietbaan toe gaan en toe is dit so. Ongelukkig was daar reeds ʼn funksie by die skietbaan, en Krummel stel toe voor ons gaan lê sommer in die land en skiet na die 1st ghong.

 

 

Kinders en pa’s gooi lood en daar word lekker gelag vir ʼn ghong waarna ons skiet wat nie eers daar hang nie. Kan ʼn kortverhaal alleenlik oor hierdie klein episode skryf, maar ek dink paar van ons wil die klein episode liewers vergeet haha.  

Die res van die dag was om die vuur spandeer as daar nie geswem, windbuks skiet of klein vissies gevang is nie.  Kinders verdwyn met die windbukse op ʼn groot jag en dan word daar weer erg gefokus op die visvang.

 

 

Wind het gekom en gegaan, maar oor die algemeen het ons seker van die beste weer gehad waarvoor ons dankbaar is.

Krummel/Carla & Bertie/Roelien, baie dankie vir een ongelooflike wegbreek naweek. Ek dink dit is die 1st van vele en ons gaan die kinders nog op groot toere deur Afrika vat.

 

 

Aan my twee seuns, Jean & Lian: soos altyd ʼn voorreg om hierdie met jul twee mannetjies te deel. Ons geselsies saans voor ons gaan slaap in die daktent en soggens as ons oor die rivier kyk is iets wat ek altyd spesiaal sal vind. Volgende kamp, moet ons definitief ekstra komberse vat, want Jean trek my heeltyd oop.

 

Back to blog

Leave a comment

Please note, comments need to be approved before they are published.