Marthinus, Jean & Lian
- Ek en my twee seuns, Jean & Lian
- Ricky
- Boerbok
- Marnus en sy seuns, Marthinus & Ulrich
Na ʼn vinnige draai deur die dorp en die ergste hitte wat darem bedaar het, word die vuur aangesteek en die eerste vuil Coke proe soos heuning oor die tong. Stories van 13 jaar gelede word herleef toe ons donkiekar gery het op Merweville en daai tyd by die Springbok Lodge oornag het.
Koop die Bakkie Hakkie
Hoe laer die son sak in die verte hoe meer word die lug bo ons ingekleur met verskillende skakerings van rooi en oranje. Kinders hardloop in die verte agter ʼn remote control kar, roosters is vol vleis, glase is vol en jy voel hoe die rustigheid jou oorval.
Saterdagoggend en ons is vroeg aan die beweeg. Vandag gaan warm wees en almal is bewus daarvan, so na ʼn vinnige koffie en beskuit kruip ons rustig deur die dorp tot by Die Boekklub Restaurant (wat ek later sou hoor is waar die bekende KykNet TV reeks geskiet is).
Die kinders is soos miere om die tafel en wil heeltyd buite wees, maar die son klap hulle van albei kante as hul onder die stoep se skaduwee uit beweeg, en dan is hul weer om die tafel. Die jong klomp word na die winkel om die hoek (Die Merweville Mall) gestuur met ʼn paar Rand en die opdrag is eenvoudig: vra vir Chappies. ‘n Paar minute later is die spannetjie terug met ʼn sak kakebeen brekers. Intussen het Boerbok ook ʼn besoek daar gaan maak en vir elk van die jong span ʼn tol in die hand gestop.
Skielik moet daar geleer word hoe om ʼn tol te gooi en dan, meer belangrik, hoe om een te gooi sonder om dit deur ʼn venster te laat gaan.
Teen die tyd het die son die wêreld lekker gepak en op een stadium het Boerbok se voertuig genoem dit is 47 grade.
Van Merweville volg ons die grondpad tot ons die R354 kry waar ons dan regs draai en eers ʼn vinnige draai gaan ry in Sutherland. Petrol word ingegooi en die laaste proviand word gekry voor ons weer terug op die R354 klim. ‘n Paar kilometers buite die dorp kry ons die Blesfontein bordjie en draai dan regs op die grondpad.
Uiteindelik by Blesfontein en die erge hitte is iets van die verlede, maar dit stop nie die manne om eers hul groot sement plaasdam te betree nie. Die dam, gevul met visse, is iets om te beleef, want in die middel is ʼn sement platform van waar jy kan op klim en dan in enige rigting kan spring.
Die son het stadig begin sak in die Weste en dit was tyd om die manne die ongelooflike platorand te gaan wys. Teen die tyd het die wind effe begin optel en na ʼn paar asemrowende uitsigte oor die Tankwa Karoo het ons besluit dit is tyd om vuur te gaan aansteek.
Puredier Kinder Klere Nou Beskikbaar!
Die lot kinders is weer die vlakte in en terwyl die vuur knetter hoor jy hulle lag en speel in die verte. Kort voor lank en die pa’s en ooms besluit dit is tyd om die jong knape te wys hoe om tol te gooi en aai aai, die vaardigheid was maar min.
Sondagoggend en Boerbok slaan ʼn groot ontbyt vir al die manne aanmekaar. Die groot seun moes in die pad val want hy het nog so 650 kilometer gehad om deur te draf voor hy by sy familie weer is. Ons betree die plaasdam nog ʼn laaste keer en dan val ons ook in die pad terug Suide toe.
Manne dit was ʼn voorreg en wraggies lekker om weer om ʼn vuur met jul in die Karoo te sit. Dit is tyd om die volgende een weer vas te maak, so kom ons praat!
Aan my twee seuns, Jean & Lian: seuns elke klein plekkie in ons mooi land het ʼn ander mooiheid, maar meer belangrik is die rede hoekom pa julle na wildvreemde of verlate plekke neem: ek wil julle die rustigheid en ongelooflike sonsondergange laat beleef. Ja, as jul hierdie lees is jul al ouer, sal julle seker net kopskud en onderlangs lag, want toe julle 10 en 6 jaar oud was, was sonsondergange en rustigheid die laaste ding wat jul op ʼn naweek wou doen haha!
En laaste rede is, hoe ouer jul raak hoe groter rol gaan tegnologie in jul lewens speel, so sal ek jul na meer en meer verlate plekke neem waar daar nie sein is nie – dus kan jul nie vir my kwaad wees as die verdomde goed nie werk nie. Om tyd te spandeer met tegnologie is die maklike roete, maar om te reis in die stof en wind as dit nog 47 grade buite is, is iets wat ek glo en vertrou jul langer sal onthou as ʼn Minecraft speletjie.